Terug na bo

Aros groei van krag tot krag op nuwe kampus.

“Die doel van die skool is om jong mense op te lei om hulself lewenslank op te voed.” – Robert Maynard Hutchins.

By Aros (Akademie Reformatoriese Opleiding en Studies) word uitsonderlike onderwysers opgelei om te inspireer, bouwerk in die lewens van ons kinders te doen en die samelewing te vernuwe. Aros begelei studente om die onderwysberoep ten eerste as ʼn roeping van die Here te aanvaar en te betree. Studente wat by Aros studeer het, beskik oor beroepsgerigte opleiding, en omdat onderwys ook as ʼn roeping gesien word, gee dit besondere sin en betekenis aan hierdie beroep. Daar word ook op die ontwikkeling van Christelike waardes in die klaskamer gefokus. Aros-studente is hoog in aanvraag by Afrikaanse en Engelse privaat en openbare skole, ʼn verskeidenheid van ander opvoedkundige instellings en ook op internasionale vlak.

Aros gaan volstoom voort met wêreldgehalteonderrig aan studente en die modus van onderrig is in die laaste twee jaar ook suksesvol aangepas. Tans word kurrikulums as afstandsonderrig aangebied en dit geskied deur addisionele ondersteuning aan studente in die vorm van direkte kontaksessies en/of interaktiewe, aanlyn sessies, werkswinkels of ekstra klasse.

Aros spog in 2022 met ‘n rekordgetal eerstejaars en sien met groot opgewondheid uit na 2023. Die eerstejaarsgetalle groei jaarliks, en juis in hierdie opsig is Aros as privaat hoëronderwysinstelling trots en dankbaar om te kan sê dat ons elke jaar onder die Here se seën van krag tot krag gaan.

Aros is ook geseënd met ‘n splinternuwe kampus geleë in Besembiesieweg, Montanapark. Voornemende studente is welkom om hier te kom kuier en ware Aros-gasvryheid te beleef. Ons sien daarna uit om studente en voornemende studente hier te verwelkom en deel van die Aros-familie te maak.

Aros gaan ook sy studierigtings uitbrei. Vanaf 2023 word ook NGOS- Verbruikerstudies aangebied. Daar is ‘n behoefte in hoërskole hieraan en Aros wil graag  roepingsgedrewe onderwysers ook in hierdie veld oplei.

“Ons wil graag voornemende studente wat dit as ‘n roeping beskou om ‘n onderwyser te word en by ‘n instelling wil studeer waar die onderrig op ʼn Christelik-reformatoriese grondslag geskied, verwelkom en uitnooi om aansoek te doen by Aros. Ons land het sulke mense dringend nodig,” aldus prof. Rikus Fick, rektor van Aros. Aros se onderrigmodel bied die ideale geleentheid vir voornemende onderwysers om hul studie en praktieseonderwys-ervaring gedurende die vier jaar te kombineer.