Te midde van ‘n wêreldwye pandemie beleef Aros (Akademie Reformatoriese Opleiding en Studies) steeds ‘n geskiedkundige 2021 op vele gebiede. Aros het pas hul jaarlikse gradeplegtigheid aangebied en op Woensdag, 10 Maart 2021 is 186 kwalifikasies deur middel van ‘n amptelike gradeplegtigheidseremonie toegeken. Gedurende die seremonie is al die inperkingsreëls in ag geneem. Studente het hul grade persoonlik ontvang en die funksie is ook d.m.v. ‘n regstreekse uitsending na familie en vriende uitgesaai.
‘n Totaal van tien Graad R-diplomas, 132 BEd Grondslagfase- en 44 BEd Intermediêrefase-grade is toegeken. Wat die besonderse aard van hierdie geleentheid verder verhoog, is dat dit die eerste Aros-groep BEd Intermediêrefase-onderrigstudente is wat die onderwyslandskap ingestuur word. In 2021 is hierdie studente toegerus om roepingsgedrewe onderwys te gee en ‘n verskil te maak.
By Aros word studente begelei om die onderwysberoep ten eerste as ʼn roeping van die Here te aanvaar en te ervaar. Wanneer onderwys as ʼn roeping gesien word, gee dit sin en betekenis aan die onderwysberoep. Studente wat by Aros studeer het, beskik oor beroepsgerigte opleiding. Tydens hulle studie word daar ook op die ontwikkeling van Christelike waardes in die klaskamer gefokus. Aros-studente is hoog in aanvraag by Afrikaanse en Engelse privaat- en openbare skole, ʼn verskeidenheid van ander opvoedkundige instellings en ook op internasionale vlak.
“Hierdie is ‘n besonderse groep studente wat in ‘n baie moeilike tyd hulle studie moes voltooi het a.g.v. die pandemie,” het prof Rikus Fick, rektor van Aros, gesê. Aros het egter besonder vinnig deur middel van aanlyn klasse en - assesserings die nodige aanpassings gedoen. Sodoende is dit vir elke student moontlik gemaak om hul studiejaar suksesvol te voltooi. “Ons is veral baie trots op hierdie groep gegradueerdes wat hul grade of diplomas voltooi het. Van die groep gegradueerdes het 23 van die 186 hul studie met lof geslaag (75%+). Ons is baie trots om hierdie bekwame groep studente as onderwysers die wêreld in te stuur,” het prof Rikus Fick verder gesê.
Daar is ook ander faktore wat tot die besonderse aard van 2021 vir Aros bydra. Aros spog in 2021 met ‘n rekordgetal eerstejaars en kan met dankbaarheid aankondig dat 650 eerstejaars by die Aros-familie verwelkom is. Tans beleef Aros uitsonderlike groei. Vir Aros is dit in die lig hiervan ook ‘n groot voorreg om in 2021 twee nuwe studierigtings aan te bied, naamlik NGOS en BEd Senior Fase en VOO. Beide hierdie studierigtings het groot belangstelling gelok. Onderskeidelik word 132 BEd Senior Fase en VOO-studente en 54 NGOS-studente by Aros in hierdie jaar verwelkom.
“Ons wil graag voornemende studente wat dit as ‘n roeping beskou om ‘n onderwyser te word en by ‘n instelling studeer waar die onderrig op ʼn Christelik-reformatoriese grondslag onderrig geskied, verwelkom en uitnooi om aansoek te doen by Aros. Ons land het sulke mense dringend nodig,” aldus prof Rikus Fick, rektor van Aros. Die onderrigmodel bied die ideale geleentheid vir voornemende onderwysers om hul studie en praktieseonderwys-ervaring gedurende die vier jaar te kombineer.
Aros is trots om te midde van al die uitdagings steeds voort te gaan met onderrig wat van hoë gehalte getuig en steeds koers te hou ten spyte van moeilike omstandighede. Op hierdie wyse word daar aan studente die geleentheid gebied om hul 2021- akademiese jaar suksesvol af te handel.